voort

Ek gaan dus voort (let op my hande beweeg vinniger sedert ons laaste gesprek, moontlik ly ek aan die een of ander geestesgebrek, moontlik is dit sommer niks of selfs die niks wat sommer moontlik lyk, lyk, lyk, kyk hoe stamel ek nou, hoe vinnig vou die woord homself na onder, raak dit aan ‘n verbeelde bodem - die dowwe lyn wat kinderhande reguit stuur - moontlik, hoe was dit moontlik, die geel blomme die sagte grond die rustekens orals om ons) maar ek dwaal af en jy sal merk ek trek dood wat doodgetrek is, ek wen op wat verlore is, ek trek uit wat binne is, my verskeie ontmoetings met afwesiges, dade van aanbidding en ander handelinge wat (soos jy weet) ‘n besondere teenwoordigheid van gees verwag, vereis, skuif ek vir eers opsy om te onthou hoe dit was as sprokies werklik is en gode God.