armband
hierdie kan jy dra net wanneer jy wil.
dis omdat ek jou liefhet. geen ketting nie,
net jou sagte keuse elke nou en dan
as jy dit sien blink iewers onder in jou laai.
ek verkies dit so (anders raak jy miskien
gewoond aan my? anders vergeet ons miskien
dat die liefde vrywillig is?) dis in elk geval
soos wasem of wolke of woorde of iets
wat moeilik is om aan te vat, jy weet dis daar
as dit nie daar is nie, en dit verdwyn
as jy daarvoor wil betaal. terloops:
as god so was sou almal in die hemel wees
(miskien is daar nog hoop dat ons liefde
haar anders sal oortuig?) maar vir nou
is dit net ek en jy, die oomblikke sonder
skuld of vrees, en dis vir my genoeg.