oubaas

nuwejaar

dit sneeu vanaand sagte beloftes vas
teen die hellings. ons keer terug
na die bekende soos ‘n woord na sy mond,
'n kind na sy ma, 'n hart na sy klop. ons wag
op ‘n nuwe betekenis, iets waarop ons kan loop
en dink en leef en droom. intussen gebeur
dit wat ons jare en vriende en vreugde
(en hartseer) noem, dit wat ons doen en onthou
en aan vashou, dit wat ons laat opstaan en aangaan.
die paaie wat ons volg en spore wat ons laat
'n stil getuienis van ons kort bestaan

voort

Ek gaan dus voort (let op my hande beweeg vinniger sedert ons laaste gesprek, moontlik ly ek aan die een of ander geestesgebrek, moontlik is dit sommer niks of selfs die niks wat sommer moontlik lyk, lyk, lyk, kyk hoe stamel ek nou, hoe vinnig vou die woord homself na onder, raak dit aan ‘n verbeelde bodem - die dowwe lyn wat kinderhande reguit stuur - moontlik, hoe was dit moontlik, die geel blomme die sagte grond die rustekens orals om ons) maar ek dwaal af en jy sal merk ek trek dood wat doodgetrek is, ek wen op wat verlore is, ek trek uit wat binne is, my verskeie ontmoetings met afwesiges, dade van aanbidding en ander handelinge wat (soos jy weet) ‘n besondere teenwoordigheid van gees verwag, vereis, skuif ek vir eers opsy om te onthou hoe dit was as sprokies werklik is en gode God.

soms

ek waardeer jou
al klink dit soms nie so nie
al spring my woorde soms oor rotse
met horings en harde hoewe
al hoer my hart, soms,
en al is ek soms verdronke
my soms soms meer
as wat ek steeds wil glo
ek waardeer jou, soms

Op Soek na Werk

ek wou nog altyd beekforel
vir ontbyt hê

Skielik vind ek ‘n nuwe pad
na die waterval

Ek raak haastig.
Word wakker,

sê my vrou,
jy droom

Maar as ek probeer opstaan,
kantel die huis.

Wie droom?
Dis middag, sê sy.

My nuwe skoene wag by die deur.
Hulle glinster.

Vry vertaal. Raymond Carver se gedig (uit A New Path to the Waterfall).

welkom

berge lig en tronend raamloos
rondom ons, nog naamloos
met gebare gebroke klanke en kloue
gletsers. wit woude skilfer
teen hange, in houthuise brand mense
met kruise, besweer die vreemde
keer die onvermydelike sien
die onsigbare hoor die stilte
droom die werklikheid. ons is hier
waar ons moet wees, wees hier
waar ons moet wees, welkom

oor gebed

jy vra my hoe om te bid tot iemand wat nie is nie?
ek weet slegs dat gebed ‘n fluweelbrug bou
dat ons hoog daarop loop soos op ‘n springplank
bo landskappe van ryp goud
verander deur ‘n vreemde stilstand van die son.

hierdie brug lei to die strand van Omkeer
die teenorgestelde van “is”
en openbaar aan ons ‘n onverwagse betekenis.

let wel: ek sê ons; waar elkeen afsonderlik
medelye betoon met die ander vleesgevangenes
en weet dat ons hierdie lugbrug sal bly loop
al is daar geen ander strand nie.

Vry vertaal. Czeslaw Milosz se gedig.

armband

hierdie kan jy dra net wanneer jy wil.
dis omdat ek jou liefhet. geen ketting nie,
net jou sagte keuse elke nou en dan
as jy dit sien blink iewers onder in jou laai.
ek verkies dit so (anders raak jy miskien
gewoond aan my? anders vergeet ons miskien
dat die liefde vrywillig is?) dis in elk geval
soos wasem of wolke of woorde of iets
wat moeilik is om aan te vat, jy weet dis daar
as dit nie daar is nie, en dit verdwyn
as jy daarvoor wil betaal. terloops:
as god so was sou almal in die hemel wees
(miskien is daar nog hoop dat ons liefde
haar anders sal oortuig?) maar vir nou
is dit net ek en jy, die oomblikke sonder
skuld of vrees, en dis vir my genoeg.